Print this page

Mynbou verniel SA kosmandjie

Written by  Wednesday, 27 August 2014 02:45
Rate this item
(0 votes)

‘Dis soos ’n wegholtrein’

Die steenkoolmyne in Mpumalanga vernietig die land se kosmandjie én water.
“Dit is soos ’n wegholtrein wat nie brieke het nie,” sê Hennie Laas, uitvoerende hoof van Agri Mpumalanga.

Netwerk 24 het landboukenners genader oor die invloed van mynbou op landbou daar nadat Mpumalanga se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme die beleggingsgroep Shanduka verlede week toestemming gegee het om ’n provinsiale pad by Middelburg op te breek sodat die steenkool daaronder uitgehaal kan word.
Laas het gesê ’n klompie maande gelede is 1,1 miljoen ha landbougrond in Mpumalanga gemyn. Daar was toe nog prospekteeraansoeke op 1,49 miljoen ha.
Volgens Laas het Agri Mpumalanga bereken hoeveel potensiële kos mynbou uit die stelsel haal en gevind vir elke hektaar landbougrond wat gemyn word, 52 000 etes per jaar verlore gaan.
Dr. Koos Pretorius, wat buite Belfast met kersies boer, het gesê die ware impak van die wettelose mynbou in die waterryke gebied sal eers oor sowat tien jaar regtig duidelik wees. Op sommige plekke loop daar al suur mynwater by mynhope uit, het hy gesê.
Dr. Theo de Jager, adjunk-president van AgriSA, het gesê hy het onlangs oor die opvangsgebiede van die Olifants- en Vaalrivier in Mpumalanga gevlieg. “Dit is ’n nagmerrie. So ver soos wat die oog kan sien, is oopgroefsteenkoolmyne. By baie word nog gewerk, maar baie is ook verlate.
“Wat in Mpumalanga aangaan, kwel landbouers erg. Ons het al met die regering daaroor gepraat en gevra dat die myne briek aandraai, maar hulle sê net daar is nog baie landbougrond by die Makatini-vlakte en in die Transkei beskikbaar.”
Volgens die jongste statistieke was daar die afgelope 14 jaar 3 936 aansoeke om mynbouregte in Mpumalanga.
De Jager het gesê dit is skrikwekkend om te dink die Vaalrivier se opvangsgebied word gemyn. Hy het gewaarsku dat die hele Gauteng, die land se ekonomiese enjinkamer, tot stilstand kan kom as Rand Water nie die swaar metale uit die water kan haal nie.
Volgens hom word die mynboubesoedeling van die Olifantsrivier al in die Massingirdam in Mosambiek opgemerk. Hy is lid van ’n groep boere wat naby die Massingirdam met mielies en sojabone boer en hy sê die watergehalte van die Massingirdam “is baie swak”.
“Die Mosambiekse regering raak stadig maar seker baie geïrriteerd met die Suid-Afrikaanse regering oor die ongebreidelde mynbou in die Olifantsrivier.”
Die Mosambiekse regering monitor tans die water in die Massingirdam, het hy gesê.
Christo Reeders, regsverteenwoordiger van die Vhembe Min¬eral Resources Stakeholders Forum, het Saterdag op ’n vergadering in Waterpoort in Limpopo gesê hy het in Maart oor Mpumalanga gevlieg en gesien die mynbouwetgewing en omgewingswetgewing wat met mynbou te make het, het misluk.
Hy het gesê die hele wêreld is omgedolwe en van rehabilitasie is daar geen sprake nie.