CvanHeerdenRenoste

Stryd om oorlewing

Written by  el Friday, 09 January 2015 04:59
Rate this item
(0 votes)

2014 was ’n afgryslike jaar vir Suid-Afrika se omgewing en die enorme uitdagings duur vanjaar voort. Elise Tempelhoff skryf oor die omgewingsrampe die afgelope jaar en oor dít wat moontlik vanjaar voorlê.

 In November verlede jaar is verskeie renosters uit die suide van die Krugerwildtuin na sogenaamde laerisikogebiede geskuif. Ondanks dié projek is 804 renosters in die wildtuin gestroop. In die laaste twee maande is meer as 120 in dié reservaat gestroop. Foto: Cornél van Heerden

Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne het in 2014 erg onder plunderaars deurgeloop.
Dit was byvoorbeeld ’n annus horribilis vir Suid-Afrika se renosters met meer as 1 188 wat teen die einde van die jaar landwyd vir hul horings en ander ledemate gestroop is. Renosters se pote en selfs hul ore word deesdae saam met hul horings afgekap, afgesny of afgesaag.
Die Krugerwildtuin het verlede jaar 804 renosters aan stropery verloor ondanks die ontplooiing van die weermag in die wildtuin en skenkings van minstens R500 miljoen deur oorsese weldoeners om gebruik te word in inisiatiewe teen stropery.
’n Nuwe Airbus AS 350 B3e-helikopter en nog drie helikopters, asook een vastevlerkvliegtuig en twee Bantam-mikroligtevliegtuie waarmee die stryd in die wildtuin teen stropers voortgesit kan word, is onder meer met dié skenkersgeld aangeskaf.
Vroeg verlede jaar het Edna Molewa, minister van omgewingsake, en Alcinda Abreu, haar Mosambiekse ampsgenoot, ’n memorandum van verstandhouding oor die bewaring van albei lande se biodiversiteit onderteken. Hulle het onderneem om renosterstropery saam te beveg. Bewaringsbewustes beskou dié memorandum egter as minder werd as die papier waarop dit geskryf is.
Daar word byvoorbeeld geen melding gemaak van operasies wat uitgevoer kan word om stropers wat Suid-Afrika vanuit Mosambiek binnekom en daarheen met hul buit terugvlug, oor die grens te agtervolg nie.
Meer nog, daar word ook nie voorsiening gemaak vir ’n uitruilooreenkoms tussen Mosambiek en Suid-Afrika nie. Dít terwyl Molewa en genl.  Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, bewus is van ene “mnr. Navara” (sy regte naam word op regsadvies weerhou) vir wie twee lasbriewe weens moord in Suid-Afrika uitgereik is. Die 32-jarige Navara beheer nou glo ’n smokkelnetwerk in renosterhoring.
Navara word gesoek weens die moord op die veearts Paul Meyer (38) van Gravelotte in 2009. Hy word ook gesoek weens die moord op ’n plaaswerker van die omgewing.
Navara het glo eers (Navara-) bakkies gesteel en oor die grens gesmokkel voordat hy die beweerde stroopsindikaat in 2011 begin het.
Intussen woed die bloedige oorlog in die wildtuin voort en word voetsoldate doodgeskiet of in hegtenis geneem. Veldwagters wat stropers doodskiet, word van moord aangekla. Só word die land se tronke en hofrolle al hoe voller en die statistieke oor renosterstropery skiet die hoogte in.

Verskeie organisasies en enkelinge het aangedui die druk op Molewa en Phiyega gaan vanjaar toeneem om die Mosambiekse sindikaatleiers in hegtenis te neem en voor die hof te bring.

Hier word ’n pan in Mpumalanga uitgemyn. Foto: Alet Pretorius
 
Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, het verlede jaar erken sy het aan 41 mynhuise toestemming gegee om waterbronne in Mpumalanga en Noordwes te myn. Hier word ’n pan in Mpumalanga uitgemyn. Foto: Alet Pretorius
Kort voordat genl.maj. (afg.) Johan Jooste, bevelvoerder van spesiale projekte van SANParke, in die wildtuin gewaarsku het oor mense se desperate pogings om renosterhoring in die hande te kry, het diewe op 20 April op die Mpumalanga-toerisme-en-parke-agentskap (MTPA) se kluis in Mbombela (Nelspruit) toegeslaan en tussen 70 en 80 renosterhorings gebuit.
Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, het verlede maand gesê agt mense is in hegtenis geneem weens dié voorval, maar die renosterhorings is weg. “Ons soek dit nog,” het hy gesê.
Die verdagtes verskyn vandeesmaand in die hof in Mbombela.
Jooste het erken sy teenstropingseenheid weet presies wie die baasbrein agter die stropings is, maar weens die afwesigheid van ’n uitleweringsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Mosambiek is dit ’n onmoontlike taak om hulle vas te trek.
So stuur die sindikaatbase wat in Massingir, Kabok, Magude en dorpies al langs die wildtuin se oostelike grens in Mosambiek woon, maandeliks tot 80 swaar gewapende stropers die wildtuin binne.
Bewaringsorganisasies waarsku dat die getal renosters vanjaar drasties gaan begin afneem. Daar gaan dus minder renosters gebore word as wat gestroop word. Die einde vir renosters kan dus vanjaar begin weens Molewa se gebrek aan leierskap.

China

Dit is egter nie net ons renosters wat gestroop word nie.
In ’n verslag van The Global Initiative Against Transnational Organized Crime (GI) wat verlede jaar uitgereik is, word gemeen die omvang van omgewingsmisdade is feitlik onmeetbaar. In Afrika word die vingers veral na China gewys wat van plante, hout, ivoor, perlemoen, renosterhoring en olifante (vir ivoor) tot minerale stroop. Ontwikkelende lande word dus juis van dít ontneem wat hulle moet help om uit die moeras van armoede te kom.
Die GI het gesê die boodskap van hul verslag is: Help asseblief.
“Dringende gekoördineerde optrede teen sindikaatbase wat Afrika en ander ontwikkelende lande se natuurlike hulpbronne plunder, is nóú nodig.”
Alles moet in die stryd gewerp word om dié onwettige ekonomie dood te wurg, sê GI.

Mynbou

Die ironie is egter dat van die plundertogte in Suid-Afrika gewettig word. So byvoorbeeld het Mokonyane einde verlede jaar in ’n parlementêre vraag van die DA erken sy het die myn van minerale uit 41 van die land se rivierstelsels (riviere, panne en vleie) gewettig.
Dié bekentenis het skokgolwe deur bewaringskringe gestuur.
Die groen lig vir hierdie plundertogte het nou bygedra tot die vernietiging van menige rivierstelsel, landbougrond en biodiversiteit in Mpumalanga en Noordwes. Dit is veral die Olifantsrivier se opvangsgebied – waar die steenkool vlak en naby aan die oppervlak lê – wat die duur prys van steenkoolmynbou en Suid-Afrika se verslawing aan fossielbrandstowwe moet betaal.
Dít is ’n growwe oortreding van die Nasionale Waterwet deur die einste mense wat dit moet toepas, het Paul Fairall, ’n omgewingskundige, in
reaksie daarop gesê.
Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing, het gesê dit is dus geen wonder dat die Blou Skerpioene feitlik niks (doelbewus?) regkry nie.
“As 41 mynhuise toegelaat word om in waterbronne te myn, waarom sal die ander meer as 100 moeite doen om te sorg dat hulle binne die Nasionale Waterwet optree,” vra Liefferink.
Sy het Suid-Afrikaners daaraan herinner dat ’n mynhuis geen graaf in die grond mag druk as hy nie ’n waterlisensie het nie.

Mpumalanga

Tracey Davies, ’n omgewingsprokureur van die Sentrum vir Omgewingsreg (CER), het in Landbouweekblad geskryf Mpumalanga ervaar ’n omgewingskrisis, maar niemand luister nie.
 
Rye en rye steenkoolvragmotors staan en wag om hul vrag by die Kendall-kragstasie in Mpumalanga af te laai. Foto: Loanna Hoffman
Sy het oor die gebied gevlieg en was stomgeslaan oor wat sy gesien het.
“Steenkoolmyne in Mpumalanga vernietig bogrond en sensitiewe plantegroei, herlei strome en riviere, vergiftig water en sluk hoëpotensiaal-landbougrond in. Die departement van minerale hulpbronne staan prospekteer- en mynregte links en regs toe ondanks hewige teenstand.”
Sy meen ander regeringsinstellings, soos die departement van water en sanitasie, van omgewingsake en van plaaslike owerhede, is óf onwillig óf nie daartoe in staat om hierdie aanslag af te weer nie.
Liefferink het gesê mense moet die groter prentjie sien: Vernietig byvoorbeeld die Olifantsrivier en die Krugerwildtuin ly daaronder en gaan later tot niet omdat diere doodgaan weens giftige water.
Suid-Afrikaners kan nie toelaat dat met hul kosbare waterbronne gedobbel word nie, waarsku Liefferink.

Droë krane

Groot was die skok toe waterkrane in dele van Gauteng einde September vir tot tien dae droog was toe kabeldiefstal en kragonderbrekings Rand Water gekniehalter het om water te verskaf.
Onbruikbare, besoedelde water is ewe erg as geen water nie, sê Liefferink.
Gaan Rand Water dit vanjaar regkry om ondanks beurtkrag steeds water aan die groeiende bevolking van Gauteng en ander provinsies te voorsien? Net die tyd sal leer.

Eendrag maak mag

Daar is lesse te leer uit droë krane. Waterskaarste is iets wat die inwoners van die Limpopovallei (noord van die Soutpansberg) maar te goed ken. Hulle weet water is lewe.
As ’n mens die ou Suid-Afrika se leuse uit die stof mag opdiep: die Makhado-aksiegroep, die Mudimelli-gemeenskap en die Vhembe Mineral Resources Stakeholders het besef: “Eendrag maak mag.”
Dié groepe het besluit om saam te staan teen die bedreiging wat Coal of Africa se planne met reuse-steenkoolmyne vir die sensitiewe en droë Limpopokom inhou en het dié mynhuis vir eers met ’n interdik in sy spore gestuit.
Dié gemeenskap, wat aanvanklik elkeen op sy eie baklei het, staan nou saam en het besluit reg en orde sal hier seëvier en niemand gaan hul landbougrond, water en toerismebedryf vernietig nie.
Behoorlike studies moet gedoen word om te bepaal wat die beste opsie vir die streek en sy mense is.
Die stryd om water, lewe en minerale hulpbronne in die dorre vallei sal in 2015 voortgesit word.