Die Noordwes-Universiteit (NWU) het me. Mariette Liefferink, direkteur van die Federasie vir n Volhoubare Omgewing (FVO), met hul kanseliersmedalje vereer vir haar “passievolle en onselfsugtige” bewusmakingsveldtogte oor die radioaktiewe en chemiese besoedeling van die Wonderfonteinspruit.
Prof. Christopher Rabali, direkteur van die skool vir basiese wetenskappe aan by die Vaaldriehoekkampus van die NWU, het Vrydag gese Liefferink se “passievolle omgewingsaktivisme die afgelope sewe jaar (in gebiede waar intensiewe mynbou die afgelope eeu plaasgevind het) was instrumenteel in beleidsveranderinge van die regering”.
Hy het die voorbeeld genoem van die aanstelling van ‘n span kundiges wat ‘n rehabilitasieplan vir die Wonderfonteinspruit opgestel het.
Die plan is tydens ‘n openbare vergadering bekend gestel aan Krugersdorp se inwoners, sowel as verteenwoordigers van mynhuise wat in die omgewing werk.
Rabali het voorts gese Liefferink se benadering tot die omgewing kan beskou word as ‘n vorm van dienslewering aan gemeenskappe wat in die lig van watertekorte en klimaatsverandering worstel met omgewingsagteruitgang.
Liefferink het ook daarin geslaag om die regering te oorreed om die beginsel van “die besoedelaar moet betaal†terugwerkend van krag te maak.
Sy is nou die sameroeper van die rehabilitasieprogram wat vir die Wonderfonteinspruit opgestel is.
Dit is duidelik dat Liefferink haar sy in haar werk ingegrawe het en soveel kennis opgedoen het dat die regering haar dikwels raadpleeg.
Liefferink het gese die medalje is vir haar ‘n motivering om met haar aktivisme voort te gaan totdat die Wonderfonteinspruit en later die Krokodilrivier-opvangsgebied (die Tweelopiespruit) ook gerehabiliteer is.
Na byna ‘n eeu se goudmynbou in die Wes-Rand het suurmynwater by Krugersdorp uit ‘n ou boorgat begin loop en bedreig dit nou die voortbestaan van die Wieg van die Mensdom.
Intussen is dr. Koos Pretorius, ook ‘n direkteur van die FVO, asook stigter van die Escarpment Environmental Protection Group deur me. Buyelwa Sonjica, minister van waterwese en omgewingsake, en mnr. David Mabuza, premier van Mpumalanga, by die Mpumalanga-waterindaba vereer vir sy bewusmakingsveldtogte oor onwettige watergebruik (deur steenkoolmyne) in die provinsie.

Me. Mariette Liefferink, dr. Theuns Eloff, vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) en prof. Piet Prinsloo, hoof van die Vaaldriehoekkampus van die NWU, tydens die lentegradeplegtigheid in Vanderbijlpark






